Skedule
MENSE OP MAANDAG
Solidariteit se maatskaplike inisiatief, Helpende Hand, skep op verskeie praktiese maniere hoop deur middel van beurse, beroepsleiding, opleidingsprogramme, verspreiding van lewensmiddele, en uitdeel van skooltassies. Die onderskeie Helpende Hand-takke werk hard aan die instelling se vele projekte, maar uiteindelik is dit mense wat omgee wat die verskil in hulle gemeenskappe maak. Deur die program wil Helpende Hand mense nooi om hulle stories van hoop te deel as inspirasie vir ander.
DINSDAGFORUM
Jou regte is waarvoor AfriForum staan. Op DinsdagForum word daar gepraat oor hoe burgerregte in stand gehou kan word. AfriForum praat oor sake soos misdaadbekamping en naamsveranderinge, en stel ondersoek in na diskriminasie in sport en teen belastingbetalers, bejaardes, die jeug en vroue. DinsdagForum bied ? platform vir die konstruktiewe aktivering van minderhede tot deelname aan die openbare debat. Daar sal met ander Afrikaanse organisasies gepraat word, asook met leiersfigure in die burgerlike samelewing.
WITWARM WOENSDAG
Witwarm Woensdag takel elke week witwarm kwessies in die werkplek. Dié program bestaan uit ? samestelling van besprekings en debatte oor onder meer beroepsgesondheid, beroepsielkunde, arbeidsreg, verbruikersake en beroepe. Luisteraars kan ook inskakel vir die gereelde insetsels soos Taaltoffies – wat jou taalgebruik en taalflaters onder die soeklig bring; Die Werkende Ma – die oorlewingsgids vir alle werkende ma’s; MyGeld – ? gereelde rubriek met advies oor hoe om jou geldsake reg te ruk; en MyWerk – ? rubriek wat na die ABC van die beroepswêreld kyk. Skuif reg agter jou rekenaar, skakel in, lewer jou witwarm kommentaar en word deel van Witwarm Woensdag.
[Gallery not found]DIRK OP DONDERDAG
As jy al ooit gewonder het wat in die hart van Solidariteit aangaan, moet jy na Dirk op Donderdag luister. Dirk gaan elke week ? paar van die hartsgeheime van Solidariteit bekend maak en vertel wat die afgelope week in die vakbond gebeur het. Harde Solidariteit-nuus gaan dikwels die eerste keer op die program bekend gemaak word – die program is immers nie verniet op Donderdae nie. Dirk gaan ook kwaai inklim onder werkgewers of enigiemand anders wat met Solidariteit-lede sukkel.
VASVAT OP VRYDAG
Wat het die afgelope week in die nuus gebeur? Ons praat op Vrydae met die nuusmakers, die mense agter die nuus en die joernaliste wat die nuus beleef. Indien jy wil weet wat die invloed van politieke, ekonomiese en ander nuusgebeure op jou is, moet jy na Vasvat op Vrydag luister. Daar word sonder ompaaie oor die sake wat jou en my raak, gepraat.




