Programme

Klik op die verskillende programme en luister na vorige uitsendings.

Mense op Maandag

Juanita du Preez en die res van die Helpende Hand-span vertel elke Maandag stories van hoop. By Solidariteit Helpende Hand glo ons in die opheffing en bemagtiging van kleuters, kinders, studente en werksoekers... gemeenskappe deur opleiding. Dit skep ware stories van hoop.

Dinsdagforum

Hulle begin hul program elke week met 'n kekkel en 'n bulk met die Bul- en Hoendertoekenning. Kallie en Alana verteenwoordig AfriForum, die burgerregte-inisiatief van Solidariteit, elke Dinsdag op Solidariteit Radio. Maak jy dié burgerregte-aktiviste die hoenders in of doen jy 'n dapper ding, staan Kallie en Alana elke week op DinsdagForum reg om vir jou die nodige erkenning te gee!

Leefstyl

Leefstyl is 'n informele kuierprogram op Solidariteit Radio wat 'n positiewe, opbouende bydrae wil lewer. Leefstyl het iets vir almal. Van kinders en kosmaak tot 4x4-ritte en jag. Benewens 'n selfdoen-program vir projekte in en om jou huis deur Johann Stadler, gaan Alexia Vosloo elke week in Vernames Verklap met 'n bekende gesels wat iets oor hom- of haarself verklap wat min mense weet. Verder bied Heleen Robbertse elke week Vrouwees aan terwyl Cilleste van der Walt iets nuuts bekend maak in Wat's nuut?.

Wêreldwyd op Woensdag

Carina Bester is die aanbieder van hierdie gewilde program op Solidariteit Radio. Wêreldwyd op Woensdag fokus op Suid-Afrikaners in die buiteland en bring elke Woensdag vir jou die mooi van Afrikaans, kultuur en Suid-Afrika.

Emosionele Welstand met Bibi

Bibi gesels elke week Woensdag om 13:00 oor sake wat jou emosionele welstand bevorder.

Oorsig

Oorsig is Eugene Brink se program op Donderdae waar jy ná 'n halfuur heelwat wyser sal wees sonder om die hele koerant te lees. Die program skop af met 'n omstrede regsvraag en 'n ontleding van 'n bepaalde beroep. Daarna gesels Dirk Hermann met 'n Persoonlikheid van die Week. Maar die hooffokus val op harde nuus met beprekings oor die opkomende munisipale verkiesing en 'n vlymskerp ontleding van globale nuusgebeure.

Perspektief

Perspektief is 'n kontroversiële, ondersoekende nuusprogram waar daar oor aktuele kwessies baklei word, met kenners gedebatteer word en waar swak dienslewering aan die kaak gestel word. Luister na die frustrasies en verskynsels wat ons alledaagse lewe raak. Die program bevat ook interessante insetsels, soos Toet en taal en Fokus op opvoedkunde en onderwys. Word deel van die gesprek en kom agter die kap van die byl met Perspektief elke Vrydag om 12:00.

In Solidariteit

In Solidariteit word elke Vrydag om 13:00 uitgesaai. Dit is 'n program wat 'n opsomming gee van die week se gebeure in Solidariteit. Hierdie program sal ook weekliks op ander gemeenskapsradiostasies uitgesaai word.


Spesiale Programme

Vrouedag 2011

Die vroue van Solidariteit Radio se boodskappe van inspirasie vir die vroue van Suid-Afrika

Julius Malema se haatspraakhofsaak

Julius Malema in die hof

Die hofsaak handel oor die omstrede "skiet-die-Boer"-lied wat Malema verskeie kere in die openbaar gesing het, sowel as die ANC se openbare ondersteuning van die lied. Die saak word in die hooggeregshof voortgesit nadat die gelykheidshof in Mei 2010 beslis het dat die klag van haatspraak wat deur AfriForum teen Julius Malema en die ANC ingedien is, in die hooggeregshof bereg moet word. Dié besluit is geneem omdat dit 'n gewigtige saak is wat op nasionale vlak aansienlik gevolge sal inhou.


Programme wat nie meer uitgesaai word nie

Dirk op Donderdag

As jy al ooit gewonder het wat in die hart van Solidariteit aangaan, moet jy na Dirk op Donderdag luister. Dirk deel elke week 'n paar warm Solidariteit-sake: 'n persoonlikheid van die week en 'n regsvraag. Harde Solidariteit-nuus vind hiér ook 'n platvorm - die program is immers nie verniet op Donderdae nie. Daarom laat val Dirk ook weekliks 'n bom van die week.

Vasvat op Vrydag

Vasvat op Vrydag is Solidariteit se weeklikse nuusjoernaalprogram wat plaaslike en internasionale nuus onder die vergrootglas plaas. Wat het die afgelope week in die nuus gebeur? Ons praat op Vrydae met die nuusmakers, die mense agter die nuus en die joernaliste wat die nuus beleef. Indien jy wil weet wat die invloed van politieke, ekonomiese en ander nuusgebeure op jou is, moet jy na Vasvat op Vrydag luister. Daar word sonder ompaaie oor die sake wat jou en my raak, gepraat.

Tossie Lochner

Die bekende radiopersoonlikheid en kultuurikoon Tossie Lochner het 'n program gehad op Solidariteit Radio. Tossie Lochner Suid-Afrika, het gefokus op Afrikaners in die buiteland en met Tossie voor die mikrofoon het hierdie Afrikaners se harte weer warm Suid-Afrikaans klop.

Vakbondnuus

Vakbondnuus is elke Donderdag om 13:00 uitgesaai. Hierdie program het 'n oorsig gegee oor vakbondsake en dra ons lede se belange op die hart. Om te weet wat in jou vakbond aangaan, luister Vakbondnuus.