Programme
Klik op die verskillende programme en luister na vorige uitsendings.
Lindie vertel elke Maandag stories van hoop. By Solidariteit se maatskaplike inisiatief, Solidariteit Helpende Hand is ons nie net téén dinge soos kindermishandeling, armoede en nood nie. Ons is vír praktiese oplossings vir hierdie probleme. Vír liefde en hande vat.
Hulle begin hul program elke week met 'n kekkel en 'n bulk. Kallie en Alana verteenwoordig AfriForum, die burgerregte-inisiatief van Solidariteit, elke Dinsdag op Solidariteit Radio. Maak jy dié burgerregte-aktiviste die hoenders in of doen jy 'n dapper ding, staan Kallie en Alana elke week op DinsdagForum reg om vir jou die nodige erkenning te gee!
Carina Roos is die aanbieder van hierdie splinternuwe program op Solidariteit Radio. Wêreldwyd op Woensdag fokus op Suid-Afrikaners in die buiteland en bring elke Woensdag vir jou die mooi van Afrikaans, kultuur en Suid-Afrika.
As jy al ooit gewonder het wat in die hart van Solidariteit aangaan, moet jy na Dirk op Donderdag luister. Dirk deel elke week 'n paar warm Solidariteit-sake: 'n persoonlikheid van die week en 'n regsvraag. Harde Solidariteit-nuus vind hiér ook 'n platvorm - die program is immers nie verniet op Donderdae nie. Daarom laat val Dirk ook weekliks 'n bom van die week.
Perspektief is 'n nuwe, kontroversiële, ondersoekende nuusprogram waar daar oor aktuele kwessies baklei word, met kenners gedebatteer word en waar swak dienslewering aan die kaak gestel word. Luister na die frustrasies en verskynsels wat ons alledaagse lewe raak. Die program bevat ook interessante insetsels, soos Chalize Moran se Fokus op die Afrikaanse taal, Magdaleen Kleynhans se Fokus op opvoedkunde en onderwys. Word deel van die gesprek en kom agter die kap van die byl met Perspektief elke Vrydag om 12:00.
In Solidariteit word elke Vrydag om 13:00 uitgesaai. In Solidariteit is 'n program wat 'n opsomming gee van die week se gebeure in Solidariteit. Hierdie program sal ook weekliks op ander gemeenskapsradiostasies uitgesaai word.
Programme wat nie meer uitgesaai word nie
Vasvat op Vrydag is Solidariteit se weeklikse nuusjoernaalprogram wat plaaslike en internasionale nuus onder die vergrootglas plaas. Wat het die afgelope week in die nuus gebeur? Ons praat op Vrydae met die nuusmakers, die mense agter die nuus en die joernaliste wat die nuus beleef. Indien jy wil weet wat die invloed van politieke, ekonomiese en ander nuusgebeure op jou is, moet jy na Vasvat op Vrydag luister. Daar word sonder ompaaie oor die sake wat jou en my raak, gepraat.






